Wonderlus

Toe ek as 20-jarige die eerste keer Nick & Norah’s Infinite Playlist gekyk het, was ek verbaas om te sien hoe ‘n aand ㅡ soortgelyk aan talle wat ek al beleef het ㅡ in ‘n Hollywood-fliek uitgebeeld word. Toe ek nou, amper tien jaar later, Wonderlus kyk, het ‘n soorgelyke gevoel oor my gespoel (al is die twee flieks skaars vergelykbaar). Hier’s ‘n fliek oor jong Afrikaners wat optree soos jong Afrikaners. En ek glo nie ek’t al ooit so iets gesien nie.

Wonderlus

Wonderlus is ‘n ensemble romantiese drama wat afspeel op die dag ván, en die dag ná ‘n troue. Dit kyk na vyf mans en vyf vrouens – twenty-somethings gespeel deur Beer Adriaanse, Marvin-Lee Beukes, Mila Guy, Adam Heyns, Lynelle Kenned, Simoné Nortmann, Stiaan Smith, Edwin van der Walt, Ansu Visser, en Lea Vivier ㅡ wie se paadjies op verskillende maniere kruis. Dit kyk na verskillende liefdesverhoudings: van pasgetroud, tot moeg-vir-mekaar, tot gereelde vryery, tot verneukery.

Wonderlus

 

Die troue-fliek konsep klink dalk na ‘n cliché wat ons al hoeveel keer gesien het, maar daar’s niks oud aan Wonderlus nie. Dis vars en realisties aangebied, met ‘n Cinéma vérité-soort handheld-kamera realisme, eerder as die oordrewe realiteit van romantiese komedies. Die een troue-fliek wat dalk vergelykbaar is, is Rachel Getting Married ㅡ ‘n amper dokumentêr-styl fliek oor ‘n troue met ‘n disfunksionele, woede-belaaide Anne Hathaway as die swartskaap suster wat net nié ingepas kry nie.

In ‘n mate herinner dit ook aan Noah Baumbach se flieks soos While We’re Young of Greenberg. Wonderlus wys mense ㅡ soos dié wat jy dalk al ontmoet het ㅡ wat sukkel met menswees en jonkwees en hulself uitdruk soos wat regte mense dit doen… maar in ‘n wêreldklasproduksie. Die klankontwerp dra spesifiek op subtiele maniere by tot die realisme, die kamerawerk balanseer mooi beelde met realistiese styl, en die gebruik van liedjies soos dié van Academie, Yesterday’s Pupil, en Hey,River is verfrissend en só trots Suid-Afrikaans.

Wonderlus

Veral vir ‘n ensemble-fliek is die toneelspel redelik indrukwekkend. Die fliek fokus net op die hoofkarakters, en dis amper snaaks om bekendes soos Elzette Maarschalk en Elma Postma in minimale rolle te sien. Mens weet klaar om Mila Guy, Stiaan Smith, Edwin van der Walt en Simoné Nortmann te vertrou, en dis net hier-en-daar wat iemand se toneelspel bietjie onoortuigend voel. Maar belangrikste is dat die Silwerskermfees verlede jaar Lea Vivier met goeie rede as beste aktrise bekroon het.

Een ding wat my bietjie onkant gevang het is ‘n subtiele dialoog-verwysing na Fight Club. “Jy ontmoet my op ‘n baie vreemde tyd van my lewe,” sê een van die Wonderlus-karakters in ‘n stadium. Pas Fight Club dan in by ‘n romantiese drama by ‘n troue? Tog so bietjie, ja. Waar Fight Club gaan oor die broosheid van manlike ego, kyk Wonderlus na die broosheid van jonkwees, en Afrikanerwees, en foute maak. Ten spyte van die sentrale liefde-tema, gaan Wonderlus eintlik meer oor seerkry, seermaak, en eindes. Dalk sê dit ook iets van oor begin en vernuwing soek in gebroke situasies?

Wonderlus

Ek is baie opgewonde dat Wonderlus vernuwing bring na Afrikaanse flieks. Daar is darem ook flieks soos Johnny Is Nie Dood Nie wat grense verskuif, eksperimenteer met storievertel-tegnieke, en edgy en braaf is, maar Wonderlus is ‘n stappie meer realisties, ‘n treetjie meer intiem, en effens makliker verteerbaar as Johnny. En vertrou ook sy gehoor om by te hou wanneer daar heen en weer gespring word in tyd.

Wonderlus is die soort fliek wat ons behoort te maak – in Suid-Afrika én in Afrikaans: ‘n challenging, roerende, en effens ongemaklike kykie na onsself.


Wonderlus is geregiseer deur Johan Cronje, en het Adam Heyns, Ansu Visser, Beer Adriaanse, Edwin van der Walt, Lea Vivier, Mila Guy, Simoné Nortmann, en Stiaan Smith in die hoofrolle. Dit begin 27 April in teaters.