Die kind is nog jonger – Ingrid Jonker se ‘pop’ val stukkend

Ingrid Jonker by Jonel Scholz - Die Kind is nog jonger

Ten spyte van wat Chris Chameleon graag wil hê ons moet glo, het Ingrid Jonker nie popliedjies geskryf nie. Jonker se naam vergestalt tragedie, maar ook betowerende en bewonderde poësie. Haar dogter, Simone, saam met Ernesto Garcia Marques en Paul Blom, het ‘n tribute-projek aangepak vir die 50ste herdenking van haar dood: Die Kind is Nog Jonger is ‘n dubbel-CD waarop 36 diverse bands/musikante toonsettings van Jonker se gedigte opgeneem het. Die doel met hierdie projek is om Jonker se onsterflike woorde te laat herleef, en terselfdertyd te beskerm.

Die snitlys bevat ‘n eklektiese klomp name: Van Kalahari Surfers, Victor Wolf, Inge Beckmann, Die Naaimasjiene, Beeskraal, Mavis Vermaak, Zaria, Abraham van Geenbybel, Somerfaan, Gert Vlok Nel, Francois Breytenbach Blom (van K.O.B.U.S.), The Radio Rats, Jim Neversink, Rambling Bones, tot Terminatryx.

Ingrid Jonker - Die Kind is nog jonger

Ja, oor die algemeen is die musiek op Die Kind is nog Jonger donker en tragies. Daar is min pop-elemente op die dubbel-CD te vind, maar wel ‘n paar snitte wat neig na rock – byvoorbeeld Summer (for Simone) deur Rambling Bones, ‘n Hemel Vol Blou Akkers (Anton Goosen), Deep Dark Introverted Girl (deur The Radio Rats), Lied van die Grafgrawer (The Slashdogs), Ontvlugting (Eckard Potgieter) en Vir Uys Krige (Daniel Eeuwick feat. Piet Botha).

Die album is regtig eklekties en wyd in terme van genre – Anne van Schothorst (Ek het gedink), Ingrid Jonger & Tim Parr (Toemaar die Donker Man), Robbie Robb feat. Amritakripa (Face of Love) en Victor Wolf (Ballade van Drie Vriende) gebruik gesproke woord vir hulle verwerkings – en dan lewer Die NaaimasjieneFrancois Breytenbach Blom, Somerfaan en Mavis Vermaak liedjies wat harde kitare en “found sound”-klankgrepe gebruik om industriële, metal-, en electro-elemente by te dra.

‘n Groot vrees, natuurlik, met só ‘n projek, is die kans dat die diverse genres mense kan vervreem. Maar in die geval van Die Kind is Nog Jonger is alles redelik gebalanseerd en luisterbaar, en vloei die snitte aaneen in ‘n rustige versameling wat beide werk as agtergrondmusiek én as poësie. Dis ‘n digbundel vir die ore, waar elke gedig deur ‘n ander persoon vertolk is, en elke snit op ‘n nuwe manier afwyk van die Ingrid Jonker-ruggraat af.

Ingrid Jonker by Jonel Scholz - Die Kind is nog jonger

Daar is baie op hierdie album om te waardeer. Selfs al is sekere snitte nou nie juis jou smaak nie, maak ander weer op daarvoor. Dis g’n mengelmoes nie, maar ook g’n popplaat nie. Dis eerder ‘n viering van musiek en poësie – in verskeie vorms.


Die Kind is Nog Jonger is ‘n dubbel-CD van musikale verwerkings van Ingrid Jonker gedigte. Dit sal binnekort by enige goeie musiekwinkel beskikbaar wees (spesifiek Mabu Vinyl en Revolution Records in Kaapstad, Music Moods in Pretoria & Centurion, Top CD in Pretoria, en High Fidelity in Killarney Mall Johannesburg. Khaya in Durban sal die album op vinyl hê.). Aanlyn is dit ook beskikbaar by raru.co.za en loot.co.za, en ‘n digitale download-weergawe by cdbaby.com. Binnekort ook op iTunes, Google Play, Liedjie.com, ens.