Die vloek van vrees: ‘n Gesprek met Hanneke Schutte

Die vloek van vrees: ‘n Gesprek met Hanneke Schutte

16 March 2018 0 By Floris Groenewald

Hanneke Schutte was ‘n kind vol vrese. “Ek was só bang gewees toe ek klein was. Ek was regtig bang vir álles. My pa-hulle het nie geweet wat om met my te doen nie. Ek kon nie eens in die gang afloop in die aand nie, ek moes hardloop — al was die ligte aan.”

Ek weet nie of oorweldigende vrees jou ‘n beter kandidaat maak om ‘n storie oor vrees te vertel nie, maar Hanneke het besluit om te probeer. Sy is die skrywer-regisseur van Meerkat Maantuig, ‘n nuwe fliek wat grootliks gaan oor vrees.

“Selfs die boek was half donker gewees,” vertel Schutte vir my oor die oorsprong van die fliek. Die boek waarop die fliek gegrond is, is Riana Scheepers se Blinde Sambok — ‘n jeugnovelle oor ‘n meisie wat glo in ‘n vloek op haar familienaam. “Ek weet dis ‘n baie Afrikaanse ding — hierdie hele vloek ding. Ek ken so baie mense wat glo daar is ‘n vloek op hulle plaas, of daai ring van Ouma het ‘n vloek op, of sulke vreemde goed.”

“Toe het dit iets in my wakker gemaak. En as dit regtig hierdie ding is waarin mense glo, en ek lees nou hierdie boek oor ‘n meisie wat glo in ‘n vloek, het ek gedink, ek wil ‘n donker sprokie vertel, en ek was nog altyd mal oor magiese realisme. Maar die boek, omdat dit ‘n kort jeugnovelle is, is nie ‘n baie groot, cinematic storie nie, so ek moes baie verander aan die boek.”

En die veranderinge was dikwels outobiografies. “Dit was vir my belangrik gewees om die storie my eie storie te maak. Ek wou nie Riana se storie vertel nie, ek wou mý storie vertel.”

Hanneke Schutte op die stel van Meerkat Maantuig

“So ek het gedink ek wil my eie vrese in die storie inbring. En ek’t selfs die ouma en oupa se name verander na my ouma en oupa s’n. Ek het die hoofkarakter verander; ek het die plekke verander. Sodat jy jou eie stem en ondervindinge in ‘n ding kan inbring. En ek dink dit help mense om meer te kan vereenselwig met ‘n karakter as dit voel of dit werklik is. Of dit nie net ‘n storieboekkarakter is nie — dis asof die regisseur en die skrywer hulself in die storie ingebring het.”

Hoewel sy van ‘n groot verskeidenheid flieks hou, noem sy Sofia Copolla se Lost in Translation as een van haar gunstelinge.

“Dit preek nie, dit sê niks nie, dit verduidelik niks nie. Dis net ‘n dag in die lewe. Mens sien net die persoon leef. Ek het vir lank in Praag gebly, so ek kon myself heeltemal vereenselwig met die karakter. Ek was op daai tyd so 24 of 25, en ek was net lost. Ek het net in Praag rondgeloop, en kon met niemand praat nie, en in die supermark kon ek nie etikette lees nie, en het nie geweet hoe enige iets werk nie. En ek’t nie geweet wat ek wil doen met my lewe nie.“

“Dis asof sy hierdie fliek vir my geskryf het, en ek love daai gevoel. Dis soos wanneer jy na ‘n liedjie luister, en jy voel hulle het hierdie vir my geskryf — dit pas perfek. En dis omdat dit open-ended is. Sy wys vir ons iets wat sy duidelik deurgegaan het — ek kan haar sien in daai wêreld. En sodra jy ‘n storie maak wat eg voel aan jou, gaan ander mense kan sê, ek kan verstaan, dit resoneer, dit maak sin.”

Hanneke Schutte op die stel van Meerkat Maantuig

“Ek het Meerkat Maantuig gemaak as ‘n les vir myself om my eie vrese te oorkom. Soos public speaking, of soos skryf — as ek voor my rekenaar gaan sit voel ek heeltemal of ek dit nie kan doen nie.”

Maar is Meerkat Maantuig dan vol lesse vir ander mense oor vrese oorkom?

Sy verwys na ‘n Marilyn Manson onderhoud om haar standpunt oor lewenslesse te verduidelik. Manson is gevra watter raad hy vir die jeug het. Ek sal nooit vir die jeug raad gee nie, het hy blykbaar geantwoord. Ek sal vir hulle vra wat hulle vir my wil sê. Waaroor wil hulle praat? Wat het hulle op die hart?

“So mens kan óf preek,” som Schutte op, “óf jy kan net terugsit, en hoor. Die gehoor bring wat ookal — hul lewe, verwysingsraamwerk, probleme — na die fliek toe, en hulle haal dan iets daaruit.”

Sy’s definitief iemand wat baie bewus is van die kyker se invloed op ‘n fliek. “Dis soos met liedjies ook: As jou hart gebreek is dan hoor jy mos al die hartseer liedjies op die radio en hulle resoneer met jou.”

Sy het die ongelooflike geleentheid gehad om Meerkat Maantuig na die Austin-filmfees toe te vat. “Ek weet nie of dit net die Texas-mense is nie,” wonder sy hardop, “maar hulle’s net sulke vriendelike mense. Na elke screening staan daar so ‘n ry van mense en almal wil met jou kom praat, en elkeen wil vir jou sê presies wat die fliek vir hulle beteken het.”

“Dis vir my ongelooflik — mens kry dit nie gewoonlik by film festivals nie. Een of twee mense kom sê vir jou ‘well done’, maar daar is hulle só lief vir flieks, en lief vir fliekmakers, en lief vir praat oor flieks.”

Hanneke is ook baie dankbaar dat sy self daar kon wees. “As jy die film verteenwoordig is dit amper asof hulle die fliek anders ontvang ook. Want as jy die storie vertel na die tyd of voor die tyd van hoe moeilik dit was om die fliek te maak en hoe ons die fliek gemaak het en van Suid-Afrika, en waar die storie vandaan kom, is dit asof hulle jou leer ken, en hulle lees ook meer in die fliek.”

“Dis vir my nogals ‘n cool ding — as jy flieks kyk en na die tyd met ander mense praat wat van flieks hou, en dan weet jy dis ‘n interessante movie as daar goed is om oor te praat, en mense verskillende opinies het.”

Hanneke Schutte op die stel van Meerkat Maantuig

Wanneer ons gesprek weer terugdwaal na Meerkat Maantuig toe, praat sy van die gedrag wat die kinders in die fliek uitbeeld. Soos hoe die hoofkarakter lelik is met haar maatjie, of met haar ouma en oupa, of soms emosioneel optree sonder om dinge deeglik te beplan.

Weer eens kan Schutte dit vergelyk met haar eie jeug. “Ek onthou as ‘n kind hoeveel keer ek probeer wegloop het. Ons het in ‘n klein dorpie gebly, so dit was makliker, maar ek’t my tas gepak, weggeloop, parkie toe gegaan vir ‘n rukkie, en dan kom jy maar terug. En dis daai mentaliteit, waar, in daai oomblik as ‘n kind dink jy dit nie deur nie, tot jy by die woud kom en besef dit was ‘n slegte idee. So jy probeer maar daai deel van jou eie lewensondervindinge in die storie inbring, wat nie altyd noodwendig sin maak nie.”

En hoewel dit ‘n sprokie is, was ‘n kindergehoor nie regtig hulle teiken nie. “Daar is elemente wat scary is,” sê sy, “en as jy ‘n baie bang kind is, mag party tonele jou dalk bang maak.”

“Maar dis maar soos sprokies. As jy gaan kyk na die ou sprokies is hulle baie scary. Mense word vermoor, wolwe eet mense op, dis baie scary. So ek dink nie ons moet oorbeskermend wees teenoor kinders nie. ”

“Sprokies is daar om kinders voor te berei vir al die moeilike dinge in die lewe… op ‘n manier wat hulle dit kan inneem.”

En dit is wat Meerkat Maantuig by uitnemendheid doen.


Meerkat Maantuig wys van vandag af in fliekteaters.

Floris Groenewald

Floris sometimes writes things when he’s not watching movies or playing video games or editing videos or folk-rock singing/songwriting.