bittereinder - dans tot die dood

Van my gunsteling dele van Bittereinder se vorige album was verwysings na die dood en vergaan. Spesifiek die gedagtes van ouer word in Jou Tyd Sal Kom en aanvaarding van die dood in Doodsberig. ‘n Jaar later reik Bittereinder hul vierde plaat, Dans tot die Dood, uit – en soos die titel insinueer is daar baie dood en vergaan op die album. Maar net soveel dans.

“Op die lem van die mes lê die einde van die storie
Hier’s die sedeles: Ek is nog nie dood nie.”

-Die Mes

Maar nadat Die Mes die ernstige ‘dooddansmasjien’ inlei, spring Bittereinder oor na ‘n parodie/satire-liedjie – Hartseer Gangster. Veral in die gekskeer musiekvideo word daar onder andere verwys na Die Antwoord en Jack Parow. Hoewel dit hoofsaaklik grappig is, sê Hartseer Gangster nog steeds iets oor skuil agter ‘n image.

Hoewel Hartseer Gangster bietjie uitstaan as iets anders, begin die album daarna vorm aanneem. Die Berge Brand is die meer poëtiese snit op die album. Dit neig na dieselfde ‘dinkmasjien’ kant van die Bittereinder-spektrum as Die WoudDie Waarskuwing, en Bliksem, sonder om so ver soos Regstreeks: Die Dinkmasjien te gaan. Dit skep beelde. Dit behou ‘n lekker beat. Soortgelyke metafore aan dié in Klankanatomie. Dis voluit Bittereinder, maar nie deursnit-Bittereinder nie.

“Wat kan ons tot einde bring as almal dink en dans?”

-Great Track

Great Track lewer ‘n hardop, sterk “Ons sal nie doodgaan nie”-standpunt, wat herinner aan kerngedagtes van Dylan Thomas se Do not go gentle into that good nightHou Niks Terug Nie wil musiek gebruik as wapen in die geveg teen die dood en die donker. 1903 is ‘n verwerking van Virgina Woolf se A Dance at Queen’s Gate – ‘n passievolle beskrywing van hoe dansmusiek die barbaarse instinkte in ‘n mens kan wakkermaak. Dit is dus ook ‘n beskrywing/bewys van hoe passie, dans, en musiek nie kan doodgaan nie – dieselfde punt geld dan nog 112 jaar later.

“Dis die basdrom vir die wen.”

-The Flood

Die album se slotsnit, The Flood, draai om die refrein “We cannot stop it. It’s like a flood. Our days are numbered. Dance like it’s in your blood.” En so kom die album tot ‘n punt: Die naaste wat ons kan kom daaraan om die dood te oorwin, is om voluit te leef en voluit te dans.

Hierdie album verskyn slegs ‘n jaar na Bittereinder se vorige een. Ek wonder of dit as gevolg van hierdie vinnige produksie is dat Dans tot die Dood hul kortste album tot dusver is (of hul eerste kortspeler, afhangende van jou definisie). Die sewe snitte hou jou darem vir 28 minute besig, en dit voel nie so kort as wat die snitlys dit laat lyk nie. Dit voel nog steeds soos ‘n deeglike, volledige album. Daar is hierdie keer (anders as met Skerm laasjaar) bitter min Engelse lirieke. Daar is ook vir die eerste keer geen gaskunstenaars nie. Maar dit is alles okei. Die elektro-produksie is steeds vanuit die boonste rakke. Die beats laat jou bons, en die Bittereinder boys het reeds bewys dat hul nuwe liedjies net so goed werk op ‘n verhoog as op ‘n CD. Dans tot die Dood is ‘n elektriese rap & roll plaat wat dans bevorder en stry teen die dood. Kry hom self op iTunes.

bitterDansTotDieDood


Bittereinder is ‘n SAMA-bekroonde electro-rap groep van Pretoria. Dans tot die Dood is hulle vierde album.