Francois Van Coke se nuwe album, Hierdie is Die Lewe, is intiem maar openbarend. Dis in-your-face, maar staan ook terug sodat jy die groter prentjie kan sien. Dit laat jou wonder of Van Coke dalk sy Converse ingeruil het vir pa tekkies, maar andersins, om dit in een woord op te som: passievol.
Hierdie is die Lewe is vars uit die studio, waar Van Coke saam met Die Gevaar (Jedd Kossew op kitaar, Richard Onraet op kitaar, Dolf Willemse op baskitaar en Sheldon Yoko op dromme) ‘n kunswerk aanmekaar gesit het – waardig vir die vinyl-versamelaar se rak.
Dis die een wat jy oor tien jaar kan uithaal en gaan hoor en voel waar in sy lewe Van Coke was toe hy die album gemaak het: getroud en ‘n nuwe pa wat optimisties is oor die toekoms, maar terselfdetyd dankbaar vir die verlede en die mense wat saam hom die pad geloop het. Van die ‘band members’, familie, vriende en ‘fans’, almal saam.
Die album is oor die algemeen energiek en opgewek. Net wanneer dit ‘n bietjie stadiger word, skakel dit ratte oor en herinner jou aan wie die “ou” Francois van Coke was – met harder rock-klanke wat die melodieë dra. “Ek dink hierdie album is – stylgewys – redelik dieselfde as die vorige een, dis nog steeds ‘n rockalbum met invloede van waarmee ek groot geword het. Van grunge tot punk, folk, country, selfs hiphop,” sê Van Coke.
Van Coke merk op dat hy en die ouens wat saam met hom geskryf het, baie meer na ou popmusiek soos die Beatles en die Beach Boys geluister het, wat baie bygedra het tot die melodieë en harmonieë wat mens op die album kry. Dit kom deur in die gevoel van surf rock-kitaarritmes in liedjies soos Normaal Te Voel.

Tydens ‘n week in Langebaan het die band die tyd en die inspirasie gevind om die album te skep wat hul begeer. “Die skryf- en opneemproses was eintlik baie maklik hierdie keer, teen die moeite wat ek gehad het met die eerste album. Ek dink die grootse uitdaging was om nie vas te kyk teen die sukses van die vorige album en spesifiek die sukses van Toe Vind Ek Jou nie,” sê Van Coke.
Die eerlikheid van die vorige album en die lied saam met Karen Zoid, Toe Vind Ek Jou, is opmerklik in die nuwe album – veral as mens na die emosie in die lirieke luister.
“Ek besef daar is meer as genoeg hier op aarde. Die lewe sal nie wag nie, maar jy sal. Geen einde nie, ons stop nie. Ons stop nie.” – Beter Mens.
Baie van die lirieke laat ‘n mens wonder of die nuwe ‘pa’ in Van Coke die stuur nou en dan oorgeneem het. Sy dogter, Alex Lila Badenhorst, is gebore op 7 November 2016, en soos by die meeste nuwe pa’s was daar ‘n golf van oorweldigende emosies wat ‘n mens kan sien uitspeel in sy mees intieme vorm op die album.
Daar is ‘n paar liedjies op die album wat voel asof hy vir sy dogter ‘n brief skryf wat sy sal lees wanneer sy ouer is, en waardeur hy vir haar lewenswyshede gee soos “Hou jou drome groot en jou bekommernisse klein, as jy bekommer gaan jy dood, as jy nie gaan jy ook” – Paradys.
Hoewel daar ‘n geneigdheid is tot herhaling in liedjies soos My Hart en Weet Jy Wat Ek Bedoel, wat moontlik gebruik word om ‘n groter klem te lê op die boodskap van die liedjie, voel dit soms soos ‘n verlengingstegniek om die liedjies net drie minute lank te kry.
Hierdie Is Die Lewe skop af met Mensdom, wat nogal kontrasteer met Dit Raak Beter (halfpad deur die album) en Klein Prys (die slotsnit). Dit berei die weg vir die monoloog wat Van Coke vir jou voordra: Die reis van ‘n ou punk rocker wat die wêreld met al sy moeilikheid bevraagteken, en dan jou herinner dat hy die pad gestap het, en homself nou meer gelukkig as ooit tevore bevind.
“Dit raak beter as jy ouer raak. En my kop voel minder deurmekaar, verantwoordelikheid mors al my tyd en geld, dit raak beter as jy ouer raak.” – Dit Raak Beter.
Daar is tog ‘n paar elemente wat ‘n mens nie kan help om te bevraagteken nie: met toegang tot ‘n verskeidenheid van die beste instrumente beskikbaar, is die verwagting ‘n kraakvars klank, maar ongelukkig klink die dromspeler nou en dan soos ‘n Roland 808 en of iemand ‘n ‘effects pedal’ vir kersfees gekry het. Maar tog hou die surf rock-styl wat Van Coke aangegryp het, gemeng met hard rock-dele (Fokofpolisiekar-agtig) tussenin, die album as ‘n geheel opwindend.
Op die ou end is dit ‘n baie lekker album om so ‘n paar keer alleen te luister, saam te sing en te waardeer. En soos ek in die begin genoem het, vir enige Francois Van Coke, Van Coke Kartel, of Fokofpolisiekar-qanhanger, is Hierdie Is Die Lewe ‘n móét vir die versameling. Maar jy gaan vind dat jy dit later net uithaal vir die naweekkuiers. Sou dit beter gewerk het as ‘n versameling B-sides wat dien as ‘n opvolg vir die vorige album? Miskien.
Dit maak Hierdie Is Die Lewe spesiaal, nie net vir my nie, maar vir alle aanhangers, my vriende, familielede, pa’s en ma’s, jonk en oud. Vir die tannies wat gebid het in die kerk in die ou dae toe ons nie daardie band se naam mag gesê het nie, en vir die onnies wat ons detensie gegee het want ons het kras lirieke op ons tasse ge-tippex. Vir my vriende se vriende. Van Pretoria, deur die platteland tot in die Kaap. Die album speel soos ‘n nostalgiese foto-album, wat dit laat voel of ons almal saam met Van Coke om ‘n vuur sit en terugdink aan hoe lekker die ou dae was, met al die moeilike en eienaardige tye ingesluit, en ons laat waardeer waar ons vandag is. Want wraggieswaar, hierdie is die lewe.
Hierdie Is Die Lewe is beskikbaar op iTunes of Google Play, CD en vinyl by jou naaste winkels, en die vinyl kan ook deur Permanent Record bestel word.
1 thought on “Hierdie is die Lewe, meen Francois van Coke oor ouer raak”
Comments are closed.