Hoe Dalene Matthee se Toorbos met skrywer-regisseur René van Rooyen toor

Hoe Dalene Matthee se Toorbos met skrywer-regisseur René van Rooyen toor

13 November 2020 Off By Floris Groenewald

“As iemand wat skeppend moet wees, is dit vir my baie belangrik om naby die natuur te kan leef” verduidelik René van Rooyen, wat die nuwe Dalene Matthee-fliekverwerking, Toorbos, geskryf en geregisseer het. Sy ken die “rustige stilheid van die natuur” al van kleins af waar sy op ‘n plaas grootgeword het. Deesdae stap sy dikwels in die berge rondom Stellenbosch, of toer graag na plekke soos Peru en die Amasone toe. “Ek vind sulke oomblikke baie belangrik om eerlik aan myself te bly en te kan skryf en skep.”

René het al op verskeie plaaslike film- en TV-produksies gewerk, waar sy onder andere geskryf het aan Hollywood in my huis, Mooirivier, Vaselinetjie, en Trackers, geregisseer het aan Mooirivier en Getroud met Rugby, en saam met haar man Corné die reeks Alles Malan geskep, geskryf, en geregisseer het.

Die roman

Sy kan die eerste keer wat sy Toorbos gelees het goed onthou – veral die oomblik wat sy die laaste paar bladsye klaargemaak het. “Die onmiddelike gevoel wat ek gehad het is dat die liefdesverhaal my sterk opgeval het. Ek was pas getroud en dit was ‘n baie anderse, eerlike verhaal van liefde. Hoe mense se paaie dikwels uitmekaarloop, met die roetes wat hulle stap om mekaar weer te vind.”

René het haarself ook vereenselfwig met die boek se hoofkarakter, Karoliena Kapp, ‘n “bosmens” wat in die Knysnawoud grootgeword het, en saam met ‘n man ‘n weg na ‘n dorpsbestaan sien.

“Ek het baie bewondering vir Karoliena in hoe vasbeslote sy is om op te staan vir haar uitkyk op die lewe en die ongelooflike impak wat dit uiteindelik op my as leser, maar ook in haar verhouding met Johannes het.”

“Ek het ook geweet die groter temas, dié van modernisering en wat ons verloor in ons ontworteling van die natuur ‘n baie sterk agtergrond sal wees vir die afspeel van die liefdesverhaal.”

Agter die skerms tydens verfilming van Toorbos.

René het vroeg al vrede gemaak met die verantwoordelikheid om ‘n Dalene Matthee-roman te verwerk. “Ek voel veilig daarin dat ek gebly het by die hart van die storie en temas wat Dalene wou uitbeeld,” sê sy. “Ek het letterlik en figuurlik al Dalene se voetpaaie gestap om so na as moontlik haar keuses te verstaan en alles gedoen om getrou daaraan te bly.”

“Dit is vir my belangrik, dat as sy of haar dogters in die teater sou sit, hulle voel ek’t haar siel met eerlikheid vasgevang. Met dit bygesê – moes ek dit ook doen om gehore te vermaak!” Daarom het hulle besluit om in die fliek te fokus op die liefdesdriehoek tussen Karoliena, Johannes, en die bos.

Tog behou die fliek die boek se tematiese diepte, en beeld ‘n hele ensemble van karakters uit, met verskillende lewensfilosofieë.

“Karoliena is in die middel vasgevang en ons word saam met haar beproef en gevra wat vir ons belangrik is. Die vraag op die einde is ‘wat het ons om te verloor?’ Karoliena antwoord ‘As ons dit besef, is dit klaar te laat.’”

Agter die skerms tydens verfilming van Toorbos.

“Met ekonomiese voortuigang of modernisering, bly erfenis, ‘n gevoel van die plek, mense se identiteit, hulle natuurverhouding – al die dinge wat moeilik ‘tasbaar’ is, soos in Toorbos uitgebeeld, dikwels in die slag.”

Die film ondersoek ook die uitwissing van die bos en die oorneem van plantasies, die einde van ‘n diverse Afrikaanse identiteit, en die opkoms van ‘n homogene wit Afrikaner onder Apartheid. “Daardie vrae het my na die lees van die boek bygebly en ek wou ook vir die gehoor dit los om te ondersoek.”

Die draaiboek

Om die draaiboek te skryf was vir René ‘n ingewikkelde uitdaging.

“Ek was vasbeslote om nie prys te gee waarom ek op die boek verlief geraak het nie – en dit gaan oor die interne worsteling van Karoliena. Ek het altyd gevoel dit is belangrik om die storie uit ‘n vroulike oogpunt te vertel. Dit is ook relevant tot die worsteling waardeur baie jong vrouens in hulle twintigs gaan.”

René meen dat baie van die struikelblokke waarmee vrouens sukkel, nog steeds vandag dieselfde is, ten spyte van baie sosio-politiese verandering.

“Karoliena word in ‘n hoek gedruk deur sekere van die patriargale figure,” let sy op, “maar die fout wat sy maak is wat ek dikwels self ook ervaar het in my twintigs: dat ek nie glo ek moet ten volle vir my oortuigings opstaan nie. Of gekondisioneer is om ‘n kompromie te maak, ter wille van ander.”

Karoliena is iemand wat glo in haar “gut feeling”, en nie haar opinies of lewensuitkyk sal terughou ter wille van geleenthede of liefde nie.

Agter die skerms tydens verfilming van Toorbos.

“Ons moet veg daarvoor – in ons huishoudings, in ons werk, met ons vriende – en dit is nutteloos om terug te staan of onsself tweede te plaas. Inteendeel dit sal help om nie alleenlik ons verhoudings te versterk nie, maar beter balans te bring in die wêreld. Teenpole in standpunte is belangrik vir ons ontwikkeling as mense en veral in goeie, gesonde verhoudings. Ek dink hierdie worsteling binne vrouens sal altyd relevant bly.”

“Uiteindelik kon alles nie in die draaiboek gebruik word nie, maar ons het die emosionele konflik van Karoliena gebou tussen haar liefde vir Johannes – en die temas van modernisering en ontwikkeling wat dit verteenwoortig – en haar liefde vir die bos, wat weer temas van outentiekheid, organiese, spirituele en verhouding met die natuur.”

Die rolprent

Met die fliek so ‘n karaktergedrewe storie vertel, moes René en haar span baie sorgvuldig te werk gaan om die regte akteurs te vind.

“Karoliena is ‘n komplekse karakter wat oor ‘n dekade voor ons oë op die skerm grootword,” verduidelik sy. “Eerstens moes die aktrise die onskuld van die 18-jarige Karoliena en die ouer vrou kon vasvang.”

Elani Dekker, wat onlangs in Vergeet my nie en Liewe Lisa te sien was, het uiteindelik die rol gekry. Sy het ook al voorheen gespeel in Vaselinetjie, waarvoor René die draaiboek geskryf het.

Skermgreep uit Toorbos

“Elani is een van daai mense wat die vele vlakke van die rol kon interpreteer. Sy het ook hard baklei om die rol te kry. Sy het deur intensiewe liggaams- en aksentafrigting gegaan, en maande lank haar karakter ontleed. Daar is ook net die regte vonk tussen haar en Stiaan Smith, wat die manlike hoofrol speel.”

“Al die akteurs het gevoel die Dalene-verwerking is heilige grond en het baie tyd ingesit om hulself voor te berei en te transformeer vir die boswêreld van die 1930’s. Kyk byvoorbeeld na Ira Blackenberg [as Karoliena se ma, Meliena] se ongelooflike transformasie. As sy praat, haar lyftaal, gesig… sy is vir my onherkenbaar,” sê René. 

Die rolprentmedium voeg ook ander elemente by. Die regisseur se beheer van die kamera, tyd, klank, en musiek is dalk verder verwyderd van die oorspronklike roman, maar ewe belangrik om die storie te laat werk. Saam met kinematograaf Brendan Barnes het René die fliek se skote grootendeels as ‘storyboard’-illustrasies beplan.

Skermgreep uit Toorbos

“Die basis van die kamera-ontwerp was dat ons ‘n subjektiewe ‘following’ kamera wou gebruik, om Karoliena se innerlike konflik vas te vang. Die benadering het verander met hoe gewortel Karoliena in ‘n toneel is. Die natuurlike lig in die bos is donker en misterieus en eerder as om baie ligte in te bring, wou ons dit organies hou. Om die bos lewendig te maak, is van verskeie effekte gebruik – windmasjiene en reëntorings is byvoorbeeld in die bos ingesleep.”

Oor die musiek praat René ewe entoesiasties: “Die klankbaan is ‘n belewenis en iets wat ek werklik vir gehore wil laat ervaar in teaters! Die musiek deur Pressure Cooker Studios verteenwoordig ook die teenpole in die temas – die bos se klanke is organies, disharmonies, en donker. Ons het viola, konsertina en bekfluitjie gebruik, maar ook baie kreatief geraak om die boom ‘n klank te gee: daar is op bottels geblaas, die klank van die konsertina se ‘wind’ as dit uitgeblaas word…”

Die dorp se musiek verteenwoordig weer meer Europese tradisies. “Voller ontwerp, meer voorspelbaar, harmonies en klassiek.”

Die bioskoop

Ná die lang ontwikkelings- en produksieproses – nou al agt jaar sedert René met die draaiboek begin het – wil sy nie gou weer só iets aanpak nie. Maar die proses, insluitend 4 weke se afsondering diep in die Knysnabosse tydens verfilming, het haar anders laat dink oor die bos.

“Met alles wat omskep is daar na 1930’s Knysna, het ons ‘n baie nabye ervaring gehad van die werklike gevoel wat die bosmense sou beleef het. Dit wys jou eintlik hoe klein en onindrukwekkend jy self is teenoor die natuur.”

Skermgreep uit Toorbos

Uit die vier ‘bosboeke’ wat Dalene Matthee geskryf het, is Toorbos die enigste een wat uit ‘n vroulike karakter se oogpunt vertel word, en René meen die verhaal was baie persoonlik vir Dalene self. “Dit was haar eie ontdekkingstog,” sê sy.

“Ek dink Toorbos se temas en wat Dalene wou vermag het, is veel groter as feminisme, maar tog in sy kern is dit ‘n sterk argument waar die manlike en vroulike teen mekaar toutrek… en ek wou tog iets wys van hoe belangrik die vroulike is.”

“Laat ek dit so stel:” sluit René ons gesprek af, “Toorbos is ‘n verhaal wat vrae skep en eerder kyk hoe ons balans in die wêreld kan herstel. In dié geval is daar ‘n wanbalans en dit vra dat die kyker en karakters nie die gevoelens en die oortuigings van die vroulike moet minag nie.”

Toorbos is vanaf 13 November in fliekteaters.