Na agt jaar het akteur en vervaardiger Tim Theron en sy vennote besluit om ‘n opvolg op hulle gewilde Oudtshoorn-fliek te maak. Ons het hom gaan uitvra oor die lang pad na Klein Karoo 2.
Dis nou 8 jaar vandat die eerste Klein Karoo fliek verskyn het. Waarom was dit nou die tyd om ‘n opvolg aan te pak?
Ons het nooit beplan om ‘n opvolgprent te maak nie. Maar toe word die moontlikheid genoem in gesprekke wat ons met KykNET gehad het, en toe tref al die drama van die Covid-19 Pandemie. Met al die druk waaronder mense tans is, al die spanning en selfs ook hartseer wat baie mense beleef het, het dit net vir ons meer en meer begin voel asof hierdie juis die tipe film is wat mense tans nodig het – ‘n “feel good”-film vol lag, liefde en selfs ‘n mooi traan of twee.

Is daar enige groot lesse wat julle in die afgelope 8 jaar geleer het? Of is daar enige maniere waarop julle die opvolg anders benader het as die eerste fliek?
Die eerste Klein Karoo film was ons heel eerste film as vervaardigers. Dis redelik veilig om te sê on het baie min geweet op daardie stadium, en regtig geleer soos wat ons aangaan. Gelukkig het ons toe, net soos nou, ‘n fantastiese span mense om ons gehad. So ek dink die grootste les nou was dat ons rustiger was in die proses. Ons is nou al baie meer ‘confident’ in ons vermoë as vervaardigers, om te kan beplan en uitdagings te kan hanteer. Ons het die regte, ervare mense in die regte posisies gehad in ons span, en ons het in ‘n area geskiet waar ons ontsaglike goeie ondersteuning van die gemeenskap gehad het – so ons kon baie meer die proses geniet ook.
Het die COVID-pandemie die fliek se produksie enigsins beïnvloed? Indien wel, hoe was dit om onder (of deur) daardie omstandighede te werk?
Die grootste invloed was dat ons ‘n paar keer die skiet van die film moes uitstel. Ons kon toe uiteindelik rondom Sept/Okt van 2020 met die produksie begin, en ons was gelukkig dat dit een van die tye was wat so half tussen die Covid-19 golwe geval het. Ons was ook op ‘n redelik afgeleë deel van die wêreld, so ons was basies in ‘n onoffisiële “bio borrel” gewees. Die COVID situasie het dus nie die skietproses self baie beinvloed nie.
Die pandemie se grootste invloed was op die vrystelling van die film. Ons het ook gewag en gewag, gehoop dit situasie met fliekteaters word beter, maar het toe uitindelik besluit om dieselfde roete te volg as met ons vorige film, Griekwastad, en direk op BoxOffice vry te stel.

Nes die eerste fliek is Klein Karoo 2 ‘n romantiese komedie, maar dit raak ook aan ernstige sake (soos onder meer veediefstal). Is dit belangrik om die twee kante te balanseer? En is die balans moeilik om reg te kry?
Die balans is definitief moeilik ja. Ons wou nie enige iets weg vat van die film se romanse of humor nie, maar ons wou ook met die film wys dat ons almal so bietjie “groot geword” het, dat die film nie hoef weg te skram van regte probleme nie. Met dit wys ons hopelik vir mense dat selfs binne die onsekerheid wat ons tans leef, is daar ook nogsteeds, humor, hoop en liefde.
Wat hoop jy sal kykers uit Klein Karoo 2 kry?
‘n Glimlag! Ons grootste hoop, en die rede hoekom ons die film gemaak het, is dat mense selfs net ‘n glimlag sou kry uit die film. Ons hoop natuurlik die film raak mense dieper aan, gee hulle dalk self weer so bietjie moed en hoop in hierdie vreemde tye waarin ons onsself tans bevind. Maar as iemand die film kyk, en net vir ‘n oomblik van hulle stres en sorge vergeet, net vir ‘n oomblik kan asemhaal en glimlag, dan sal ons tevrede wees.
Is twee flieks genoeg vir hierdie karakters? Is daar enige kans dat ons hulle dalk weer sal sien?
Dit sal dom wees om nooit te sê, want wie weet, dalk roep Frans, Jackie, Bongi en die res van die span ons weer na die Klein Karoo toe so paar jaar van nou af.
Klein Karoo 2 is van 15 Desember af beskikbaar op DSTV BoxOffice. Onthou – jy hoef nie ‘n DSTV-intekenaar te wees om flieks op BoxOffice te huur nie.