Jagveld

Mense gaan vir jou sê Jagveld is soos Kill Bill in Afrikaans. Dit is tog hoe die lokprent dit laat lyk het. Behalwe vir Leandie du Randt Bosch se Lara Croft (van Tomb Raider) klere, lyk haar blonde hare tog so bietjie na Uma Thurman s’n in 2003 – veral wanneer dit bietjie deurmekaar is, met sweet en bloed op die gesig. Maar Jagveld is eintlik bietjie iets anders – minder te doen met wraak, meer met oorlewing.

Daar is definitief goeie rede dat die fliek jou aan Tarantino se genre-oorgrensende epiese wraakverhaal laat dink. Leandie du Randt Bosch se laerskoolonderwyseres Emma le Roux is op pad Karoo toe vir die skoolvakansie, na ‘n onlangse rusie met haar kêrel – oor geweld, nogal. Dan kruis sy per ongeluk paaie met ‘n bende dwelmsmokkelaars (Neels van Jaarsveld, Tim Theron, Bouwer Bosch, Luan Jacobs, Edwin van der Walt en Danie Putter), word ‘n ooggetuie van hulle misdaad, en word skielik hul teiken.

Dis natuurlik alles Hollywood-indoktrinasie se skuld, maar dit voel altyd vir my moeiliker om Afrikaanse skurke as geloofwaardig te aanvaar. Tog, wanneer jy jou oorgee aan die realiteit van die fliekwêreld, is die bendelede se vertolkings lewendig, karaktiserings opwindend, en hul taalgebruik ‘n aanvaarbare soort Afrikaans wat gepeper is met Engels en vloekwoorde. Daar’s tog niks so irriterend as ‘n bloeddorstige karnallie wat in perfekte Afrikaans skree “Sit neer jou vuurwapen of ek skiet jou!” nie.

Jagveld

Tweerigtingradio-gesprekke tussen Emma en die bende laat mens baie aan Die Hard dink (daar’s wel heelwat minder ontploffings). Die jagtog in die ruwe en teisterende Karoolandskap lyk nes die uitbeelding van die Meksikaanse grens met Amerika in Desierto. Terugflitse na lewenslesse van Emma se pa toe sy klein was herinner sterk aan die seuntjie met sy bekfluitjie in Once Upon a Time in The West. Kitaarmusiek word deurgans gebruik, en mens kan nie help om weer aan Tarantino se werk herinner te word nie. Daar’s een stuk musiek by die klimakstonele met perkussie wat darem baie soos Santa Esmeralda se Don’t let me Be Misunderstood (soos gebruik in Kill Bill se Showdown at House of Blue Leaves-tonele) klink. Behalwe vir Emma se klere is haar gedrag ook op tye amper presies soos dié in die Tomb Raider-videospeletjies (wat ook onlangs herskep is as ‘n spanningsvolle oorlewingsdrama). En daar is ‘n konfrontasietoneel met nabyskote wat direk uit Sergio Leone se “spaghetti westerns” geleen is.

Tog kom die hele ding eintlik uit die pen van Deon Meyer – meer bekend vir boeke as flieks, maar deesdae ook draaiboekskrywer (van Die Ballade van Robbie de Wee, Jakhalsdans, en Die Laaste Tango). Saam met regisseur Byron Davis het hulle Jagveld aanmekaargeslaan, wat grootliks vir my soos ‘n Suid-Afrikaanse oorvertelling van Die Hard voel. Dis ‘n spanningsvolle oorlewingsdrama, en vir so ‘n eenvoudige storielyn raak die fliek nooit vervelig of eentonig nie. Die storie is ontwerp as ‘n vloeiende, ontvouende drama – sekerlik ‘n produk van Meyer se jare van ervaring met spanning, en hoewel die humoristiese kwinkslae dalk net een of twee keer té veel gebruik word, is hulle oor die algemeen vermaaklik en pret.

Jagveld

Jagveld is ongelukkig nie perfek nie. Waar Kill Bill byvoorbeeld vanaf die eerste oomblik die tradisionele fliekstruktuur op sy kop draai, leef Jagveld in ‘n redelike standaard, formele styl – tot op ‘n punt. Skielik wanneer die storie sy eerste groot wending het slaan die postmodernisme toe: ‘n Tarantino-agtige vloed van rooi spoel oor die skerm, en die filmmakers sny heen-en-terug tussen die hoofkarakters en ‘n gesprek tussen bystanders wat in ‘n poëtiese storieverteller-monoloog verander. Dan keer Jagveld bloot terug na sy vorige tradisionele styl. Tot aan die einde wat die Spaghetti Western weer stylvol nageboots word. Dis goeie rigtings waarin die fliek gestoot word, maar die oneweredigheid wat styl betref maak dat sulke tonele dalk meer uitstaan as wat dit hoort.

Hulle het ook ‘n vreemde besluit geneem in terme van kleurversorging: die bloeddorstige Karooson speel ‘n belangrike rol in die fliek, en die glinstering van almal se velle dra briljant by daartoe. Maar terselftetyd is die donkerder dele van die beelde dikwels amper pikswart – wat weer die glinstereffek teenwerk en die son se teistering verminder.

Verder is die tegniese kant van Jagveld baie goed hanteer: daar is heelwat pragtige tonele wat getuig van meesterlike kinematografie en stelbekleding. Behalwe vir ‘n skietgeveg aan die einde wat bietjie verwarrend was, is alles duidelik en verstaanbaar, en spesiale toertjies, grimeringeffekte, en kamerategnieke is spaarsamig en versigtig gebruik om nooit die skermtowenaars se geheime te verklap nie.

Jagveld is een deel Deon Meyer-spanningsverhaal, een deel huldeblyk aan Die Hard, en een deel “biltong western” – die kyk werd as jy van enige van die bogenoemde hou. (Waarskuwing: Daar is nie enige biltong in die fliek nie)


Jagveld is ‘n spanningsrolprent geregiseer deur Byron Davis, met ‘n draaiboek deur Deon Meyer, en Leandie du Randt Bosch in die hoofrol. Dit is in fliekteaters van vandag (17 Maart) af.