Julia, Suzelle, Tali, en sosiale media

Tali's Wedding Diary - Tali

Hoe akteurs nou Sosiale Media gebruik om hulle karakters lewe te gee en die probleem daarmee.

Vir die wat nie weet nie: die aktrise Julia Anastasopoulos (bekend as Suzelle DIY) het ‘n nuwe karakter: Tali sal binnekort vir ons wys wat dit vir ‘n Sandton-poppie vat om ‘n troue te beplan in Tali’s Wedding Diary. Terwyl ek vreeslik opgewonde is vir die nuwe projek om lewe te kry op Showmax, het dit ander nie-so-positiewe gedagtes opgewek.

Daar is oomblike in ‘n mens se lewe wat vasgesteek word soos ‘n pin op jou gunsteling pinterestbord. Een van dié oomblike vir my was ‘n gesprek gevoer deur kennisse – waar hulle praat oor verskillende persoonlikhede. Nee, nie hoe mense verskil nie, maar eerder die verskillende ‘personas’ wat een persoon aanneem in verskillende omgewings (ook so op verskillende sosiale netwerke).

Daar was spesifiek drie onder bespreking. Die persoon wie jy is by jou vriende, die persoon wie jy is voor jou familie, en die persoon wie jy is op sosiale media. Ek sal eintlik verder uitbrei en sê dat die persoon wie jy op sosiale media is, ook van die platform afhang – met ander woorde, die persoon wie Instagram eerder as Twitter gebruik, of die verskillende goed wat jy op verskillende platforms deel.

Ek glo daar is vir baie millennials meer as net die drie personas, maar die feit bly: ons neem almal verskillende karakters aan in verskillende omgewings. Dis normaal, in ‘n mate – jy gaan mos nou nie voor jou baas vloek nie – ons pas aan by die omgewing. Dis deel van menswees en Julia, sowel as die karakters wat sy speel, maak ons opnuut attent op hierdie verskillende aspekte van menswees in die 21ste eeu.

Behind the scenes at Tali's Wedding Diary

Die probleem, vir my, is dat met die lig op ‘n nuwe karakter, voriges na die skaduwees toe trek.

Omdat Suzelle ‘n karakter is en nie ‘n persoon nie, moet mens maar leer om sonder haar klaar te kom. Dis soos om vir jou gunsteling sepiekarakter totsiens te sê, of die depro wat jy slaan na ‘n goeie boek. Ons wil hê die lag moet vir ewig hou.

Waar ek wel dink Suzelle haar aanhangers in die steek laat is haar keuse van medium. Met YouTube word ‘n sekere verwagting geskep. Ons word gewoond aan weeklikse videos (of met sommige YouTubers, daaglikse videos) en nou is sy net nie meer daar nie. Dit laat my as aanhanger gebruik voel. Asof Suzelle nou “op” gebruik is. Sy het haar boek gepubliseer en ook so haar doel gedien. Hoewel daar nog so dan en wan ‘n video is, is dit nie waaraan ons gewoond was nie.

Suzelle DIY - sien Julia Anastasopoulos binnekort in Tali's Wedding Diary

Die filosoof Marshall McLuhan het gesê dat die medium ook die boodskap is.

Dit was lank voor die internet, maar soos vroeër bespreek is dit nou instink – jy gaan nie ‘n foto van jou middagete op Twitter plaas as jy ‘n Instagram het nie, en selfs al is dit nie ‘n ‘reël’ of ‘wet’ wat vir ons voorgesê word nie, is dit die norm en ons volg dit.

Die norm van YouTube is dat mense nie ná hulle ‘n publieke figuur word net ophou videos maak of minder videos maak nie, maar eerder dat hulle meer insit – hulle temas raak beter, hulle videos raak meer gereeld en die rede is eenvoudig: GELD. Want hulle maak tog geld uit hulle videos uit.

Miskien moet ek myself gerusstel dat ons as verbruikers en vervaardigers die medium kan buig en vorm soos dit ons pas. Al is dit nie altyd perfek nie, is dit wel ‘n vorm van vryheid wat geniet kan word deur kunstenaars.


Julia se nuwe program, Tali’s Wedding Diary, begin 14 Desember op Showmax.