Radio Kalahari Orkes - Mamba

Radio Kalahari Orkes se Ian Roberts gesels oor Mamba!

Ian Roberts, verteenwoordiger en leier van Radio Kalahari Orkes, is ‘n soort enigma. Buite die orkes ken mens hom as akteur en draaiboekskrywer, maar dalk hoofsaaklik as “Boet” – een van die karakters van ‘n populêre reeks Castrol televisieadvertensies. Op die vooraand van die bekendstelling van Radio Kalahari Orkes se nuutste album, Mamba!, het ek die geleentheid aangegryp om met Roberts te praat, en hopelik die mens agter die orkes te leer ken.

“Ek persoonlik het ‘n bietjie van ‘n probleem,” se Ian Roberts. “Ek hou nie juis van skares nie.”

Om die mens agter enige orkes te probeer verstaan, moet mens eers verstaan dat die man op die verhoog en die man in wat jy op straat raakloop, nie noodwendig dieselfde persoon is nie.

“Ek hou baie meer van intieme situasies, waarin kleiner gevoelens bevestig kan word. Dit kom van my teaterervaringe. Mens kan nie Steven Berkhoff se weergawe van Frans Kafka se ‘Metamorphosis’ by die Pretoria Skougronde suksesvol opvoer nie…”

“Maar skares beteken ponde en dit smaak ek. So suffer baby, suffer.”

Radio Kalahari Orkes - Mamba

Foto deur Dan Roberts.

Radio Kalahari Orkes se bestaan het heelwat te doen met ‘n mitiese, moontlik-parallelle heelal – dinge daar is nie altyd 100% feitelik nie, en het heel waarskynlik ‘n deeglike dosis fiksie ingemeng.

“Ja kyk,” begin Roberts verduidelik. “Ek persoonlik kom van baie ervaring in Teater opvoerings. Ek ken ‘n lee saal. Ek ken ook ‘n stamp-gepakte saal. Een ding is, gehore moet nuuskierig bly of gehou word.”

“As ek jou die voorgereg en die hoof-dis en die poeding alles op een bord sit, gaan jy mos nie nuuskierig bly nie. Ja, never let a vrot President stand in the way of a good country.”

In die oomblik voel die antwoord voel gepas. En humoristies. Maar as mens terugkyk moet jy fyn lees om die regte draad, verstringel met ander, uit te ken.

“Modes swaai heen en weer,” laat hy volgende los. Ek’t hom gevra oor die groep se slagspreuk: ‘Honderd Jaar Agter Die Tye, Maar Steeds Op Die Spoor’.

“Meeste mense swaai saam met die modes. Maar waarheid swaai nie. So daai rigting wat ons volg is ‘n poging om die vae spoor van ‘hart’ musiek te belig, al is die lig partykeer swakkerig. Maar die gevoel word nie van gepraat nie. Ons weet dit almal maar net. Jong mense wie se harte nog nie deur ‘n oordosis  hormone bevaag is, sing saam en ‘love’ ons musiek.”

“Kleines dans maar en sing saam met mammie se cd oppad skool toe en terug. Ouer mense dans minder. Maar hulle harte dans bietjie binne in die ou bors. En hulle glimlag.”

Dis duidelik dat Roberts se hart en kop en wêrelduitkyk van nature poëties is.

“Miskien laat ons mense vergete gevoelens herinner,” dink Ian hardop, as jy hom vra oor die luisteraar se ervaring. “Soos Beechies Musk – die kougom wat die eerste girl wat ek gesoen het, Lucille Ainslie, besig was om te kou. Dis nou 1968!”

Radio Kalahari Orkes - Mamba

“Niks ander musikante nie,” belowe Roberts oor hul albumvrystelling 1 Maart. “Niks backtracks nie.”

“Dis eenvoudig: Better the devil you know than vreemde musikante. So sal ons doen. Daar gaan wel nuwe geheime wees. Soos slim tegniese goed wat agter ons aangaan by Atterbury Teater.”

En dan, amper asof hy nie net die spesifieke konsert, maar sommer Radio Kalahari Orkes as geheel beskryf, sê hy:

“Verrassings is altyd deel van wat met die Orkes aangaan. Ons sal maar sien.”

Roberts groet my met ‘n aanhaling van Marthinus Theunis Steyn – voormalige President van die Vrystaat [“Hy is gesien as Afrika se eerste ware ‘Demokraat’. En Hoogswaarskynlik ook die Laaste,” sê Roberts]:

“Ek stem nie tot oorlog toe ‘n minuut voor dit nie anders kan nie. Maar weet dit: As ek die dag sê ‘oorlog,’ dan moet julle nie meer met my van vrede kom praat nie. Want dan moet dit gaan tot die bitter einde…”

“Die Orkes voel dieselfde,” sê Ian.


Radio Kalahari Orkes se nuwe album, Mamba!, word Woensdagaand 1 Maart by Atterbury Teater in Pretoria vrygestel. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Floris Groenewald

Floris sometimes writes things when he’s not watching movies or playing video games or editing videos or folk-rock singing/songwriting.

Leave a Reply