Koos Kombuis Lush

Van die kombuisvloer na die verhoog – Koos Kombuis gaan Lush Festival toe

Suid Afrika is ‘n kulturele land, daar’s geen twyfel daarin in nie. Ons hardloop op diversiteit. En vir al ons verskille het ons almal een ding in gemeen; ons hou van partytjie. Die beste bewys hiervan is die menigde kuns – en musiekfeeste in ons land wat vir ons beskikbaar is.

Laas jaar is die nuweling Lush Festival op die been gebring, en het hy sy voete tussen die ou menere gevind. Dié jaar dans hy saam.

Koos Kombuis Lush

Lush Festival is geleë net buite die prentjiemooi juweel van die Oos Vrystaat, Clarens, op die plaas Linwood. Dit glad nie ‘n verrassing om te sien hoe vinnig die fees sy gewildheid verower het nie, as jy eers sien hoe omsingel die plaas deur berge en woude is. Menigde feesgangers kom trek saam om weg te breek uit hul daaglikse roetine in die stad. Vir my is die mees opmerkende kenmerk van hierdie bloedjong fees sy rooster van kunstenaars wat daar gaan optree. ‘n Mengelmoes van alle genres en van oral in die land (en oorsee) kom saam om verhoë te deel. Daar is van Medicine Boy na Karen Zoid, PHFat na Francois Van Coke, BCUC na Valiant Swart. En dis net ‘n handjie vol.

Hierdie jaar spog Lush Festival ook die legendariese Koos Kombuis. ‘n Musikant wat geen vreemdeling op die musiekfees toneel is nie, wie se loopbaan al meer as drie dekades lank sterk staan en wie se nuutse album, die Solms-delta geïnspireerde Langpad na Lekkersing, tans uit is.

Ons het gaan opvang met die musikant net so voor sy optrede by die fees:

Hoe voel jy oor die huidige stand van die alternatiewe Afrikaanse musiektoneel?

Toe ek aangekondig het dat ek ‘n album wil maak wat ‘n verskil moes maak, het ek aanvanklik in my eerste persverklarings gevra dat die publiek my moet help om “Afrikaanse musiek te red”. Op daardie stadium het ek ‘n baie benoude gevoel gehad oor die stand van Afrikaanse musiek. Ongeveer in daardie selfde tyd en veral nou het daar egter skielik so baie dinge begin gebeur wat my gerus gestel het dat baie ander mense ook voel soos ek! Daar is inderdaad skielik weer tekens van lewe in Afrikaanse en plaaslike musiek. Dit gaan nie meer net oor kwantiteit nie maar ook oor kwaliteit en oor outentieke bydraes. Meteens is daar orals nuwe stemme, of ouer musikante wat hulself herontwerp om ‘n nuwe idioom te help skep.

Hoe het die idee van jou nuutste album tot vore gekom?

Die idee vir die album is gebore uit ‘n diepe depressie waarin ek myself sowat twee jaar gelede bevind het. Ek wou heeltemal ophou toer en liedjies skryf. Sekere dinge het gebeur wat my weer kreatief laat voel het, en die resultaat is die nuwe versameling liedjies wat ons einde verlede jaar onder leiding van Schalk Joubert opgeneem het na ‘n “crowdfunding campaign”. Die album heet ‘Langpad na Lekkersing’ en is opgedra aan David Kramer uit erkentenis vir die reusebydrae wat hy gemaak het tot plaaslike musiek.

Ek het in ‘n onderhoud met gelees dat jy jou musiekwortels (her)ontdek het, hoe verskil die klank van jou nuwe album van die van jou vorige material?

Een van die eerste musikante wat ek genader het om te speel op die album was die Cape Jazz-pianis Ramon Alexander. Hy speel klavier op baie van die liedjies en dit dra daartoe by dat die album as geheel ‘n subtiele crossover-klankie het, presies wat ek in gedagte gehad het! Dit is waar my musikale ‘roots’ lê, nie soseer in die Amerikaanse folk-klank van Dylan en kie nie, maar in die Kaap. Ek waardeer ook die bydrae wat David Kramer gemaak het in terme van advies gee en saam skryf en sing aan ‘n deel van die materiaal. Hy is immers ons eie ‘Weskus-klong’!

Kom ons praat musiekfeeste. Jou loopbaan strek al dekades lank en jy het al baie veranderinge gesien op die plaaslike toneel. Suid Afrika spog op die oomblik met indrukwekkende rooster van plaaslike feeste. Jou opinie oor die huidige musiekfees toneel? Is die mark oorversadig of sien jy nog ruimte vir groei?

Ek doen nie meer elke jaar AL die musiekfeeste nie. Wanneer ek bydrae aan ‘n fees oorweeg, neem ek gewoonlik twee dinge in ag: het ek iets nuuts om te sê vir die feesgangers, en sal dit finansieel lonend wees? Baie feeste bied mens wel die kans om nuwe idees uit te probeer voor kritiese en ontvanklike gehore, maar die feit wat die algemene publiek nie besef nie, is dat kunstenaars selde van ‘n groot fees af terugkeer met geld in die sak. Vir die van ons vir wie musiek ‘n voltydse joppie is, is dit ‘n probleem. Ek is byvoorbeeld baie mal oor die Innibos-fees in Nelspruit, maar dit is vir my deesdae meer lonend om Nelspruit te besoek ‘buite seisoen’. Dan weet ek die hele dorp kom kyk na my en ek is nie in kompetisie met ander shows wat terselfdertyd plaasvind nie.

Kan jy ‘n interessante/gunsteling musiekfees herrinering/storie met ons deel?

My gunsteling optrede waaraan ek altyd sal terugdink was my afskeid-konsert by Oppikoppi ‘n paar jaar gelede. Ek het die verhoog daar vir oulaas gedeel met ‘n klompie van my beste vriende in die industrie. Ek sal nooit Andra se weergawe van ‘Lisa se Klavier’ daardie aand vergeet nie!

Op daai nooit, gunsteling kuns/musiekfees in Suid Afrika en waarom?

Op die oomblik is die Woordfees in Stellenbosch waarskynlik my gunsteling fees. Hulle het iets reggekry wat niemand verwag nie, want hulle toon fenomenale groei ten spyte van die algehele afwesigheid van vlooimarkte, biertente of gratis verhoë. Die tradisionele logistieke bemarkingsplan by elke Afrikaanse fees was nog altyd om sulke dinge te sien as ‘noodsaaklike euwels’ net om voete op die grond te verseker, maar die Woordfees het die teendeel bewys. Nie dat daar enige fout is met ‘n lekker vlooimark of twee nie!  

Met die musiek kanaal MK oorlede en ‘n blitsvinnige internet samelewing, sien jy musiekfeeste as die beste bemarkings-instrument vir nuwe (en ou) kunstenaars?

Dis inderdaad waar dat, ten spyte van die afsterwe van die MK-kanaal, daar skielik soveel geleenthede is vir selfbemarking dat kunstefeeste nie meer die enigste plek is waar musikante hul werk hoef bekend te stel nie. Wie weet, een van die dae is opname-ateljees en ‘record labels’ ook iets van die verlede? Die maniere hoe mense hul werk bemark het verander. ‘Die Anwtoord’ het tot wêreldroem gevorder in ‘n kort tydjie na ‘n geweldig gekonsentreerde internet-veldtog met bypassende grafiese kuns en videomateriaal. Dit was nie vir hulle nodig om KKNK toe te gaan of aan ‘n Idols-kompetisie deel te neem nie. Die deure is nou oop vir jong kunstenaars met innoverende idee’s. Aan die ander kant is dit seker waar dat hierdie soort solo-bemarking nie vir mens daai gevoel van samehorigheid, kameraderie en onmiddelike terugvoer gee van ‘n lekker fees nie.

Wat kan ons as bewonderaars verwag van jou optrede by Lush Festival?

Natuurlik sal ek by die Lush-fees ‘n paar liedjies van die nuwe album sing, maar dis nie te sê ek sal my ou treffers afskeep nie!

Wie sien jy uit om te sien by Lush Festival?

Ek is impressed met die lineup van die fees. Daar is onbekende gesigte en ook genooide acts van oorsee. Dit is ‘n idee wat Oppikoppi met welslae probeer het en ek is bly dat julle dit ook doen. Musikale kruisbestuiwing is ‘n goeie ding, nie net tussen verskillende kultuurgroepe in dieselfde land nie, maar ook oor internasionale grense. Ek is seker dat enige vertoning wat ons by die Lush-fees gaan kyk iets nuuts vir my en vir almal sal beteken.  

Musiekfeeste het ‘n geskiedenis van ‘n platvorm wees vir protes. Teen die samelewing. Teen die regering. Jy sal self weet met die Voëlvry toere agter jou. Deesdae bevind ek (met enkele) gevalle, dat nes musiek, dit meer oor populêriteit gaan en daai pure siel gevoel verloor het. Ons sien al hoe meer mense wat award shows gebruik vir platforms van protes en ideologies uitspreek. Ek verstaan die besigheidsmodel van ‘n musiekfees, dis ‘n baie duur ene, en kaartjie verkope is die mees belangrikste. Voel jy dieselfde hieroor en dink jy so ‘n groot platform moet meer as net ‘n partytjie wees? Veral in die huidige stand van ons wêreld. Is dit weer tyd vir ‘n protes-herlewing op die live musiek toneel van ons land?

In die ou tyd was protes so eenvoudig. Ons het almal geweet wie’s die goeie ouens en wie’s die slegte ouens. En natuurlik is daar nog steeds goeie en slegte ouens, maar daar is deesdae soveel meer komplekse issues. Ons veg nie meer teen apartheid nie. Ons veg nie eens meer net vir ‘n volhoubare toekoms vir alle Suid-Afrikaners nie. Ons veg vir die ganse voortbestaan van die planeet en die menslike spesie. Ons is SOOO diep in die kak! Ons het goeie songs en outentieke artists nou nodiger as ooit in die geskiedenis van die mensdom.


Kom sing saam met Koos Kombuis Saterdag die 15de April om 16:00 by die Willow verhoog. Die res van Lush Festival is 13-16 April. Kry jou Lush kaartjies hier – of skryf vinnig vir ons kompetisie om ‘n dubbelkaartjie te wen – inskrywings sluit vandag!

Less Wes Anderson, more Wes Craven.

Leave a Reply