Jonathan Die Movie

Rikus de Beer, wat bekendheid verwerf het vir sy Jonathan karakter op Radio Raps en sy gevolglike YouTube kaskenades, maak sy grootskerm debuut as Jonathan.

Jonathan: Die Movie

Jonathan: Die Movie is Bosbok Ses Films se eerste poging binne die komedie genre, wat ’n verligting moet wees vir ’n produksiehuis wat teen nou redelik gatvol moet wees om flieks te maak wat dekades gelede afspeel (minder kostuums, jy weet). Rikus en John-Henry Opperman het die draaiboek geskryf saam met Sallas de Jager, wat ook die regisseur en vervaardiger van die film is.

Jonathan se gemaklike leefstyl in sy ouerhuis word kortgeknip wanneer hy deur sy pa uitgeskop word en skielik sy eie potjie moet krap. Jonathan besluit om ’n karwag te wees terwyl hy wag vir sy stand-up loopbaan om spoed op te tel. In die proses raak Jonathan verlief op Sonja (Beáte Opperman), ’n voormalige ontkleedanseres wat bo sy vuurmaakplek is, en wen sommer ook die lotto.

Jonathan: Die Movie

Die fliek spog met silwerdoek veterane soos Brumilda van Rensburg, Paul Eilers, Eric Nobbs, Rika Sennett, Frank Opperman en Lizz Meiring. John Vlismas maak selfs ’n verskyning.

En die manne agter Bosbok Ses Films, wat eerste aandag getrek het met flieks soos Roepman en Verraaiers, is ’n bekwame span. Daar is nie groot tegniese irritasies nie. Die fliek het selfs ’n oorspronklike klankbaan. Die blote idee dat plaaslike YouTube sensasies hulle eie flieks kan hê maak my opgewonde. Daar is skaterlag tonele. Maar ongelukkig voel Jonathan: Die Movie meer soos ’n kans wat verspeel is.

Die lokprent sê: “Grootword is tough”. Maar ek dink nie Jonathan weet regtig hoe tough dit is nie.
En dis moeilik om jammer te voel vir ’n karakter wat homself heeltyd in die moeilikheid in drink. Of om te glo dat hulle enigsins met karwagte gepraat het voor die fliek gemaak is. Of dat ek nou sy stand-up wil gaan kyk. Of dat die fliek enige iets te doen het met grootword. Maar ek is nie oortuig nie.

Jonathan: Die Movie

Ek vermoed Jonathan: Die Movie is spesifiek vir die boys gemaak. Die boys wat al klaar lief is daarvoor om Jonathan se videos vir hulle maatjies te wys en die poppe wat saamgesleep word flieks toe.

Maar dit maak nie saak wat ek sê nie. Jonathan: Die Movie is vir die fans gemaak. Ek is immers net een van die poppe.

Jonathan: Die Movie begin 2 Desember landswyd in teaters draai.