Glass – Of is die Unbreakable-reeks nou geSplit?

Glass

Na agtien jaar se wag het M Night Shyamalan nou uiteindelik ‘n volwaardige opvolg op sy superheld-dekonstruksiefliek Unbreakable gemaak hierdie keer vernoem na Samuel L Jackson se karakter: Glass. Die fliek het drie hoofkarakters Bruce Willis se David Dunn, James McAvoy as gesplete-persoonlikheid monster Kevin Crumb, en Samuel L Jackson as die fisiese broos Mr Glass met die geniale brein.

Maar wees gewaarsku: Hierdie fliek het niks met The Avengers in gemeen nie. Dis ‘n geduldige spannings-drama, nie ‘n aksiefliek nie, en is in daai opsig meer soos Unbreakable as soos Split. Maar waar ek gevoel het dat Split effens te oordrewe was, voel Glass vir my soos ‘n beheerde, meer versigtige fliek waar al die vorige drade bymekaarkom.

James McAvoy se toneelspel as die verskillende persoonlikhede in Split was ‘n hoogtepunt van daai fliek, maar ek voel of die akteur asook skrywer-regisseur Shyamalan hierdie keer die balans vervolmaak het. En dieselfde geld vir Bruce Willis en Samuel Jackson se toneelspel. Dis gevorderd en word verder gevat as voorheen, maar nie tot die punt waar dit te oordrewe en belaglik word nie.

M Night Shyamalan en sy flieks het op ‘n stadium sinoniem geword met ‘n drastiese draai aan die einde van die fliek die bekende “Shyamalan Twist” nog iets wat jou verwagtinge van Glass dalk kan verwar. Die draaie en verrassings in Glass is nie baanbreker onvoorspelbare uitboulers nie maar die drie flieks word redelik netjies aan mekaar gekoppel, veral waar terugflitse en deleted scenes van Unbreakable herwin word om die legkaart te voltooi. Maar nes Dis vir my vreemd en jammer dat elk van die hoofkarakters ‘n baie duidelike ‘gewone mens’ as bondgenoot het nes jy dink superheld clichés word vermy.

Dis met ‘n fliek soos Glass vreeslik maklik vir jou verwagtinge om te groot te wees mens hoor die woord “superheld” en jou verbeelding hol weg daarmee. Maar vir aanhangers van die oorspronklike Unbreakable, en die verrassing-opvolg Split, lewer Glass meer van dieselfde. Toneelspel-gewys is Glass ‘n wenner. Die fliek kon dalk ‘n paar minute korter gewees het, bietjie meer suksesvol gewees het met clichés vermy, en die einde kon dalk bietjie meer belonend gewees het. Maar na 18 jaar se wag – en verwagting – doen Glass presies wat dit moet…


Glass is geskryf en geregisseer deur M. Night Shyamalan, met Bruce Willis, James McAvoy, Samuel L. Jackson, Anya Taylor-Joy, en Sarah Paulson in die hoofrolle. Dit begin 18 Januarie 2019 in fliekteaters draai.

Sien ook ons resensie van Split, en ons #Terugspoel kykie na Unbreakable.

Unbreakable is beskikbaar op iTunes, asook op DVD en Blu-ray.