Laat ek sommer uit die staanspoor sê dat ek tot hierdie jaar nog nooit ’n Innibos-fees bygewoon het nie. As ’n self-erkende fees “junkie”, is ek nogal skaam dat hierdie jaarlikse instelling in Mbombela (Nelspruit) in Mpumalanga nog altyd buite my radar was. Meer as 100 000 mense wat per jaar hierdie fees bywoon (vanjaar het daar meer as 101 000 pare voete deur die hekke beweeg!) kan nie verkeerd wees nie, so ek is baie bly ek het besluit om my tassies te pak vir hierdie mengelmoes feeservaring.
Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees het in 2003 ontstaan en groei elke jaar van krag tot krag om verskeie kunsvorme te verenig, en ’n feeservaring te bied wat vir jonk en oud plesier verskaf. Ek was weggeblaas deur die funksionele, gladde werking van die fees – die sekuriteit, personeel, uitleg, verhoë en feesprogram was foutloos en die fees hardloop werklik soos ’n goed ge-oliede masjien. Boonop spog Innibos met die kykNET Fiësta-toekenning vir die gewildste fees in die land vir die derde agtereenvolgende jaar en nou kon ek vir die eerste keer sien waarom.


Met ’n feesprogram wat bestaan uit musiek-, komedie- en teaterproduksies, sowel as kunsuitstallings, filmvertonings, kuierverhoë en boekbesprekings, is daar waarlik iets vir almal om van te kies en keur. Die moeilikste taak was om te besluit wat om elke feesdag aan te vang en ’n mens wil so graag meer ure in ’n dag hê om net nog meer te beleef en in te prop. Dan praat ek nie eens van die legio stalletjies in die Bosmôl en pretritpark nie! Hierdie is dus slegs ’n opsomming van ’n paar van my eie feeshoogtepunte:
Op die teaterfront was daar ’n goeie kombinasie van voorheen opgevoerde en debuutproduksies. Neels van Jaarsveld se Op My Eish! vertel sy lewensverhaal op ’n op-die-man-af, dog poëtiese wyse. Neels deel sy goeie en slegte tye openhartig en nooi die gehoor uit om ’n naby blik op sy volksbesitstatus te kry. Die produksie sal jou tot nuwe insigte oor die vermaaklikheidsbedryf bring en word goed afgerond deur musiek van Ryno Velvet. Met ’n klein bietjie skaafwerk sal hierdie produksie nog baie vol sale kan trek.

Amper, Vrystaat is ’n tragi-komedie wat jou laat huil en lag met drie van ons land se top aktrises: Antoinette Louw, Milan Murray en Cintaine Schutte. Hierdie drie speel susters wat soos die Noorde, Weste en Ooste verskil, maar wat met die dood van hulle ma die strydbyle noodgedwonge moet begrawe. Met ’n eenvoudige, doeltreffende stel en beligting neem hierdie drie die gehoor op reis om elkeen se diepste geheime en waarhede na vore te bring. Dis duidelik waarom hierdie produksie al sedert 2015 die pryse inpalm by verskeie feeste.

Ander teaterhoogtepunte sluit in Albert Maritz se regiewerk in P.G. du Plessis se Die Nag van Legio en Rian van Heerden se uiters gewilde eenmanvertoning, Rian met Rian.
Die musiekspyskaart was vol keuses en het ’n goeie mengsel van pop, rock en ander musiekstyle ingesluit. Op die hoofverhoog het topverkopers soos Elvis Blue, Riana Nel, Theuns Jordaan en Joshua Na Die Reën duisende mense laat juig en sokkie. Len Muller het mense in vervoering gehad met liedjies vanaf sy nuwe album, Oog van die Storm, en die relatiewe nuwe sensasie, Appel, het by al wat ’n verhoog is mense vermaak met sy oorspronklike Afrikaanse lirieke en prettige verhoogpersoonlikheid.


Die rockers het ook nie op hulle laat wag nie en dis voor die kykNET Nou!-verhoog waar ek die meeste van my tyd deurgebring het. Uitstaanoomblikke sluit Matt Carstens se oorwinning in die Rock Rumoer-kompetisie vir opkomende bands in. Kyk gerus uit vir hierdie jong, blink talent! Arno Carstens het mense in vervoering gehad met Afrikaanse snitte vanaf sy album, Die Aandblom, en het weereens bewys waarom hy na al die jare sy ikoonstatus behou. Matthew Mole, getooi in skelpienk kouse en mussie, het veral die jonger gehoor oorrompel met sy sjarme en seepgladde stem. Ander top optredes het van Tuin en Spoegwolf gekom. Ek volg laasgenoemde se loopbaan al vanaf hulle beskeie beginjare en my mond het oopgehang om te sien watter byna kultusstatus hierdie manne vir hulself opgebou het. Ek kan nie hulle passie in woorde opsom nie, maar ek kan wel sê dat ek oortuig is dat ons taal in veilige hande is met hulle wat aanhou toor in Afrikaans.
Die Boma-Kuierteater het gesorg vir loslit teaterstukke in ’n weggesteekte hoekie op die terrein. Klara Maas se Hart is Gebreek was ’n absolute hoogtepunt op hierdie verhoog. Wessel Pretorius en David Viviers het die lewe van ’n traan gepersonifiseer en die gehoor laat lê soos hulle lag. Kyk gerus uit vir hierdie stuk (as deel van ‘n trilogie) wat binnekort nog teaters in die land tref! Die kykNET-Bosbioskoop het Silwerskermfees-kortfilms, sowel as vollengte Afrikaanse rolprente gratis vertoon en was ’n heerlike wegglip vanuit die besige feesterrein.

Solank ons land se kunstenaars aanhou skep en vertoon op plekke soos Innibos, sal daar altyd ’n rede wees vir feesvier. Suid-Afrika se kunsemmer loop oor van die talent en Innibos was die perfekte plek om blootstelling te kry tot alles wat die kunste het om te bied. Met meer as 300 kunstenaars in die verskillende kunsmediums was Innibos 2017 voorwaar ‘n fees in die oortreffende trap!
Innibos 2018 vind plaas vanaf 27-30 Junie – maak sommer nou al ’n nota in jou dagboek!