Johnny Is Nie Dood Nie

Johnny Is Nie Dood Nie – maar Kerkorrel is dalk…

Ek het aanvanklik – nes met meeste biografie-flieks – vreeslik gewonder hoeveel van Johnny is Nie Dood Nie die waarheid is, en hoeveel is aangelaste fiksie. Maar nes met die Bob Dylan “biografie” I’m Not There, het ek naderhand besluit dis nie regtig belangrik om te weet nie. Want Johnny is Nie Dood Nie is nie regtig ‘n biografie nie. Die fliek kyk na die groter prentjie van hoe die Afrikaner se wêreld verander het vanaf 1987 tot in 2002, en die daaropvolgende kleiner prentjie van hoe die veranderende wêreld vyf spesifieke mense se lewens beïnvloed het.

Johnny is Nie Dood Nie sny heen en terug tussen twee stories: ‘n Middeljarige groep universiteitsvriende kom bymekaar vir ‘n braai, en dieselfde groep vriende, vyftien jaar vroeër, leer mekaar ken en begin ‘n dagga-intellectual “anargis” bende met anti-regering idees. Afhangende van hoe fiktief die fliek is, gaan dit moontlik oor Johannes Kerkorrel en vriende, wat dus terselfdetyd aan die stig van die Voëlvrybeweging was. Of is die anargis-joernalisstudente en End Conscription Campaign-deelnemers eintlik metafore vir die Alternatiewe Afrikaanse Musiekbeweging en hul Voëlvrytoer?

Lise, Dirk, Anja, Johnny, en Hein is die vyf jonges wat in 1987 by mekaar uitkom, grootword, en streef na politieke, seksuele, kulturele, en sosiale bevryding, terwyl dieselfde groep in 2002, na Johnny se selfmoord, herenig en probeer vrede maak met hul teleurstellings, ontnugtering, kompromieë, en vibracrete-frustrasies. Die akteurs (onderskeidelik Rolanda Marais, Albert Pretorius, Ilana Cilliers, Roelof Storm, en Ludwig Binge) lewer uitstekende spel, en hul karakters het almal hul eie sjarme en foute. Dis volle, geronde mense hierdie, nie karikature nie.

“Hierdie is hulle storie. Dis nie ‘n hartseer storie nie. Dis ‘n storie oor rock ‘n roll.”

Dieselfde akteurs is vir beide ouderdomme gebruik, en dit werk ongelukkig nie altyd ewe goed nie. Partykeer voel die jonger weergawes soos middeljariges wat tienerklere dra, of die 2002-weergawes lyk soos studente wat grootmens speel. Almal is darem maklik herkenbaar, en dis heeltyd duidelik na watter tydsgreep jy kyk. Wat ook die fliek se gebruik van groot, volskerm-titels wat herhaaldelik die jaar aandui, onnodig maak. Daar is ‘n rock ‘n roll of punk-eienskap daaraan, maar nadat die heen-en-terugsny formaat duidelik gemaak is, dink ek dit kon maar laat vaar word.

Johnny Is Nie Dood Nie

Die draaiboek is ‘n verwerking van ‘n verhoogstuk, en die dialoog-gefokusde fliek getuig daarvan. Maar Johnny is Nie Dood Nie is terselfdetyd filmies en aangepas vir die grootskerm – met ‘n kenmerkende visuele styl. Die fliek speel omtrent eksklusief af in lang, vloeiende skote – hele tonele, soms met dosyne byspelers en verskeie gekoreografeerde elemente wat alles moet saamwerk, of kameras wat aanhoudend draai rondom ‘n etenstafelgesprek, a la Reservoir Dogs. Die kamerawerk en lang skote, saam met ‘n alomteenwoordige storievertellerstem wat amper die storie onderbreek om uit te brei oor die politiese situasie van die dag, skep ‘n regte Y Tu Mamá También-tipe kunsfliek styl, wat ook akkuraat dui op ‘n karakterstudie teen die agtergrond van ‘n veranderende sosio-politiese landskap.

Die kunstigheid word dalk op tye bietjie te ver gevat. ‘n Alice In Wonderland-geïnspireerde huispartytjie/dwelmtrip-sekwens is ‘n voorbeeld van een wat dalk bietjie oorboord en pretensieus voel – maar ook pronkerig, te danke aan mondoophangkoreografie en tegniese vernuf. In elk geval wonder ek of daar regtig ‘n mark is vir hierdie soort kunsfilm in Afrikaans. Ek hoop om verkeerd bewys te word, maar ek voorspel ‘n groot kans dat die fliek en sy teikenmark mekaar dalk gaan mis in ‘n wêreld waar daar geklassifiseer moet word tussen Nouveau- en gewone flieks, en Engelse kykers deur Afrikaanse dialoog afgesit word.

Johnny Is Nie Dood Nie

Johnny is Nie Dood Nie is nie ligte vermaak nie – dis roerend en rof, en delf in die Afrikaner-paranoia wat later ook byvoorbeeld Fokofpolisiekar se angstige sieninge oor Suid-Afrika help vorm het. Die fliek voel ook soms bietjie soos ‘n Jukebox musical (soos Across the Universe) – hoewel alle musiek op ‘n natuurlike manier gebruik is, en daar geen verhoogstuk-sing-en-dansnommers is nie. Die musiek van Kerkorrel, James Phillips, Koos Kombuis en Randy Rambo is gebruik, gelyktydig as voorbeelde van waarna die karakters sou luister, en versterkings van die tonele se subteks.

Die fliek het maar deurgaans ‘n hartseer, melankoliese ondertoon. Dit handel eintlik oor ‘n groep relatiewe rigtinglose intellektuele anargiste wat nie woord by daad uitbring nie – behalwe wanneer dit kom by selfvernietiging – en dan met die gevolge daarvan moet saamleef. Dis ‘n Johannes Kerkorrel-fliek soos wat I’m Not There ‘n Bob Dylan-fliek was. Johnny Is Nie Dood Nie is ‘n riff op Kerkorrel en sy invloed op die wêreld – gesien van weerskante van 1994. Dis kunstig, dis onkonvensioneel – maar bo alles, is dit rock ‘n roll.


Johnny Is Nie Dood Nie is ‘n rolprent deur Christiaan Olwagen, met Roelof Storm, Ludwig Binge, Albert Pretorius, Rolanda Marais, en Ilana Cilliers in die hoofrolle. Dit wys vanaf 5 Mei in fliekteaters.

Floris Groenewald
Floris sometimes writes things when he’s not watching movies or playing video games or editing videos or folk-rock singing/songwriting.

One thought on “Johnny Is Nie Dood Nie – maar Kerkorrel is dalk…

Leave a Reply