Van Pletzen is ‘n Afrikaanse feel-goed band wat bestaan uit Matthieu Auriacombe (aka Nik-Nax, van Beach Party, Hello Beautiful, en Kidofdoom) en Peach van Pletzen (van Yesterday’s Pupil en Bittereinder). Hulle maak musiek met ‘n redelike unieke, humor-belaaide aanslag, en stel hul liedjies vry saam met gestileerde musiekvideos. Ons het met Peach gaan gesels oor die groep se oorsprong, hul debuut by Oppikoppi, en wat nog voorlê.
“Ons sou niks verander het nie,” sê Peach toe ek hom vra oor Van Pletzen se eerste single, Beurtkrag. Dis as gevolg van dié song dat Van Pletzen bestaan.”
“Nik-Nax het by my gewerk in die studio toe ons gevra was deur Bouwer Bosch om die temalied vir die film Beurtkrag te doen. Bouwer het die lirieke geskryf en dit was alles gedoen volgens die ‘brief’ wat ons ontvang het. Dit het toe nogal cool uitgedraai en Bouwer het ons oorreed om die single vry te stel, sommer as Van Pletzen. In ‘n manier was die hele ding so gebore.”
“Ek en Nik-Nax wou toe nog musiek maak maar dit was eers meer as ‘n jaar later toe ons werklik ons vibe gevind het en dis die regte Van Pletzen. Beurtkrag was amper soos die saadjie.”

“Ons het op ‘n stadium gespeel met ‘Fun Pletzen’ as die naam, maar toe rol ons maar net met Van Pletzen. Dit het meer persoonlik gevoel. Ons wou dit nie ‘n band naam gee nie.”
Maar met hul speelse aanslag wonder mens of die band net op humor en ‘inside jokes’ fokus.
“Nee,” sê Peach, “mense kan die musiek, woorde of beats geniet in enige kapasiteit. Vat van dit wat mens wil. Daar is beslis humor in Van Pletzen maar dis nie al wat daar is nie.”
Gepraat van hul humorsin, ek’t al gehoor hoe mense Van Pletzen vergelyk met Andy Samberg en kie se grappop-groep, The Lonely Island.
“Ons dink dis awesome! Ek het myself al sat gelag vir hulle videos en hulle production value is amazing, selfs beter as van die ‘ernstige’ pop musiek s’n.”
As mens Eiland Styl en GOUD as ‘n maatstok gebruik, sê Peach dat hul definitief nog ernstiger liedjies gaan vrystel. “Elke song is sy eie klein planeet maar dit pas steeds mooi in in Van Pletzen se sterrestelsel.”
Ek is vreeslik nuuskierig om te sien hoe die studio-opnames in ‘n lewendige opset sal werk.
“Daar is nog baie meer tot die vibe en klank as net die twee songs wat mense tans ken. Die live show gaan sy eie monster wees met baie ander songs, maar een ding is ‘n feit: mense gaan ‘n goeie tyd hê.”
Hulle debuteer as live band by Oppikoppi vanjaar.
“Mens kan enige plek na Van Pletzen luister.”
“Dit gaan oor ‘n oomblik van wegbreek van realiteit. Om nie alles te overthink — en ernstig op te neem nie. Om soms net ‘n kak lekke tyd te he. Is Oppi nie die absolute beste plek vir ‘n kak lekke tyd nie?”
Vir dié wat nie tot Oktober kan wag nie, het Van Pletzen vanoggend hul nuutste musiekvideo vrygestel:
Van Pletzen maak hulle lewendige debuut by Oppikoppi vanjaar – kry jou kaartjies hier. Jy kan ook ‘n voorksou sien op ChatNOU hierdie Vrydag. Hul singles Beurtkrag, Eiland Styl, en Goud is op YouTube, iTunes, Deezer en Google Play.